nuus


BAS Jeug Stranddag

Musiek by die video:
Alive (Studio Version) van Hilsong Young & Free
Video geproduseer deur Carin van der Westhuizen. 6 November 2021






Hempies

Hierdie hempies is verkrygbaar in 3 afbeeldings van kindergrootte tot volwasse grootte. Die pryse is soos volg:
Volwassene: R150.00
Kinders: R100.00

Vir bestellings kontak Madelein Louw by 060-7815417




Wêreldbiddag vir vroue
4 Maart 2022

Wêreldwyd kom vroue op hierdie dag bymekaar en bid saam. Hierdie dag was gewy aan die gebed van die gelowige vrou. Ester en Hanna was voorbeelde van vrouens wat deur gebed intens met God gekommunikeer het.

Vrouens het mekaar se krone reggeskuif en lipstiffie aangesit. Saam het hul vir die plaaslike gemeenskap, Suid-Afrika en die wêreld gebid. Hulle het hul hande uitgestrek na alle uithoeke van die aarde en die Heer se seën afgebid.


Hawediens

14 Januarie 2022 het die gemeenskap van Velddrif, Laaiplek, De Plaat, Noordhoek en Port Owen saamgestaan en ‘n hawediens vir die vissermanne en -vroue gereël.

Dit is tradisie dat daar ‘n hawediens gehou word, in die hawe, om die vissersgemeenskap te seën voordat die visseisoen begin en die vissermanne losgooi.

Bergrivier Aanbidding Sentrum was genader om die diens te behartig.




Doopdiens

Petrus sê: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.” (Hand. 2:38)

“Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop...” (Hand. 2:41)

  • Jy het so pas tot bekering gekom!
  • Jy het Jesus as jou Here en Verlosser aangeneem.
  • Nou moet jy Jesus gehoorsaam en jou laat doop.
  • “Hy wat glo en hom laat doop.” (Mark. 16:16)

  • “Maar toe Filippus die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus aan hulle verkondig het, het hulle gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop.” (Hand. 8:12)
    Let wel: Mans en vrouens is gedoop; dié wat gelowig geword het, is gedoop.




    Uitreik – Weskus vir Jesus

    14 – 16 November 2021 het die gemeente ‘n gemeenskapsuitreik aksie gehad in die Rivera Hotel. Pastore Lorentz La Grange en Morné du Plessis het by hierdie uitreik, om die beurt, die gemeenskap bedien.




    Verjaardag

    8 November 2021 was die gemeente 1 jaar oud. Ons het heerlik fees gevier. Tafels het gekreun onder lekkernye. Gekuier was daar gekuier. Kinders het nimmereindigend gespeel en gelag. Soos een groot familie het ons hierdie dag saam geniet.




    Biddag vir Polisie

    1 Oktober 2021 het die Vredenburg en Vredendal area ‘n biddag vir die Polisielede gehou by Laaiplek NG Kerk.
    By hierdie geleentheid was hulde gebring aan lede wat hul lewens verloor het die afgelope jaar. Die 2 weduwees het elkeen vir hul mans ‘n kers aangesteek en ballonne in die lug vry gelaat.
    Pastoor Horn, as afgetrede provinsiale hoof van die SAPD kapelane in die Wes Kaap (en ook stigter van die tradisie), was die gasprediker.




    Vrouedag 2021

    9 Augustus is amptelik vrouedag in Suid-Afrika.  Die dag het ‘n lang, spesifieke, politieke geskiedenis. Die vroue van Bergrivier Aanbidding Sentrum het hierdie dag, ver verwyderd van politiek, gevier.  Die dag was spandeer by die voete van Jesus. Nie net het die vroue die ander vroue van die gemeente beter leer ken nie, maar kon hul introspeksie doen oor hul persoonlike verhouding met Jesus. Die dag is begin deur aan kommunikasie te raak. Gedagtes en getuienisse is uitgeruil.  Hulle het met mekaar gedeel hoe God al vir  hul deur gekom het in omstandighede wat dit net nie moontlik gevoel het nie. 


    Ester was as ‘n voorbeeld gebruik, met die teksvers van Ester 4:14 as tema, oor hoe die Here elkeen gebruik in Sy koninkryk.   Sy was ook gebruik as simboliek van hoe Christus sy bruid, die kerk, voorberei vir wanneer Hy sy bruid gaan kom haal. Die dames het in groepe die Spreuke vrou van Spreuke 31 bestudeer en tussen hulle, 10 kenmerke van die Spreuke vrou bestudeer uit die Woord. Hulle is aangemoedig om te volhard in die geloof al gaan dit hoe moeilik party maal.  Elkeen is ‘n tyd alleen by Jesus se voete gegun en hul het die geleentheid gehad om ‘n persoonlike briefie aan Jesus te skryf.  Dit kon enige vorm aanneem.  Elkeen het ‘n helium ballon gekry waaraan hul briefie vasgemaak is. Nagmaal is voorsien.  Die dames het buite bymekaar gekom en kon op hul eie tyd nagmaal gebruik en hul ballonne hemelwaarts laat gaan as hul wou. Die dag was pragtig en geseënd.  Trane van hartseer, bekommernisse en blydskap het onbeskaamd gevloei.  Dames het mekaar spontaan bemoedig en vir mekaar gebid.






    Covid en ons Jeug

    Ons JEUG se pragtige projek oor wat Covid aan hulle doen. Dankie Carin vir jou leiding. Hierdie video het vanoggend sluise oopgemaak.
    Sien video hier.




    Prayerwalk

    Van ons gemeentelede het op 26 Junie bymekaar gekom en 'n "prayerwalk" rondom ons gebou gedoen. Voete is gesalf, shofars is geblaas, profetiese woorde is gespreek. Gebid vir ons area, regering, land teen Covid, teen die werke van Satan en trawante.






    Ontmoeting met Patrick Styles

    Ons het vandag die voorreg gehad om vir Patrick Styles (die man wat al twee jaar lank deur Suid-Afrika stap ter bewusmaking van plaasmoorde en ook so grond terugeis vir Jesus) langs die pad in te wag, vir hom te bid, hom te seën en selfs 'n entjie saam met hom te stap. Daar was selfs die wat self die kruis opgeneem het en gestap het. Hierdie man het 'n merkwaardige getuienis. Bid asb vir hom en sy vrou en vir voorsiening vir hierdie twee mense. Sy is tuis terwyl hy stoksiel alleen die pad stap. Hy is ook aangewese op ander se guns. Seën hom as jul hom langs die pad kry. Google gerus Patrick Styles "walking for God with cross.""